Kaapse Forum en Morningstar-gemeenskap maak Langebergpad skoon

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum het op 30 Januarie saam met die Morningstar-gemeenskap die heining teen Langebergpad skoongemaak.

Dié skoonmaakprojek is deur die plaaslike gemeenskapsleier, Lynn Louw, geïnisieer nadat die Kaapse Forum onderneem het om die gemeenskap te help om die omgewing te verfraai. Ter voorbereiding vir die plant van bome langs Langebergpad het Louw, bestuurder van ’n plaaslike naskoolsentrum,  hande met die Kaapse Forum gevat om die area eers skoon te maak. Die projek word ook deur die plaaslike raadslid, Theresa Uys, ondersteun wat toestemming vir die projek gegee het en die swartsakke vir die skoonmaakaksie geskenk het.

“Hierdie projekte is ’n voorbeeld waar selfdoen en goeie verhoudinge met die plaaslike politici en ondernemings volhoubare gemeenskapsprojekte moontlik maak. Die Kaapse Forum is in beginsel ’n voorstander van federalisme, tog is hierdie projekte ’n praktiese voorbeeld van hoe ons hierdie ideale, prakties ten bate van die hele gemeenskap kan toepas en uitleef,” sê Bernard Pieters, betrokke by die Kaapse Forum.

Daar is tans met verskeie rolspelers in die Durbanville-omgewing gesprekke om betrokkenheid by hierdie inisiatief te versterk. Suid-Afrika gaan onder verskeie uitdagings gebuk en die terugkeer na meer gehegte gemeenskappe kan gesien word.

Indien jy of jou maatskappy by die Kaapse Forum, of Morningstar betrokke wil raak kontak ons gerus by info@kaapseforum.co.za

Raak vandag nog betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.