Kaapse Forum en SAAI staan skool by wat so byna-byna NAMPO-droom moes laat vaar

Leerders van Hoërskool Zwartberg in Prins Albert se droom om NAMPO Kaap – een van die grootste landbou-ekspo’s in die Wes-Kaap – in Bredasdorp by te woonwas so byna-byna aan’t skerwe toe dié skool se bussie aan die vooraand van dié gewilde ekspo die gees gegee het. Kaapse Forum en SAAI het egter op versoek van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) ingegryp en bygedra om die koste vir die huur van ’n privaat bussie vir dié besoek te dek.   

Twaalf leerders kon danksy hierdie hulp die drie dae lange ekspo bywoon – ’n geleentheid wat hul blootstelling aan die landbousektor in sy geheel verseker.

Hoërskool Zwartberg is dankbaar vir dié bydrae wat aan die leerders die geleentheid gegee het om dié jaarlikse landbou- en handelstentoonstelling by te woon en waar hulle blootgestel is aan vee-, pluimvee- en lewenstyluitstallings sowel as tentoonstellings van masjinerie, perdevertonings en werkshonde. Die ekspo is vir hierdie gr. 10-leerders veral van belang vir die uitbreiding van hul kennis rakende die landboubedryf en om die geleentheid te kry om ook direk met kundiges in die veld te skakel.

Volgens Bernard Pieters, hoof van Gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum, is geleenthede soos dié waarby leerders blootstelling aan die praktyk kry, van kritieke belang. “Blootstelling aan landbou en die gepaardgaande waardeketting open ’n nuwe wêreld aan jongmense. Dit moedig ook ’n groter waardering by leerders aan om eerstehands se sien hoe die landboubedryf funksioneer en hoe selfs die eenvoudigste produk uiteindelik op jou etenstafel land,” verduidelik hy.

“Dit is vir leerders noodsaaklik om byvoorbeeld blootstelling te kry aan die komplekse sisteem wat alles perfek moet saamwerk om selfs net ’n glas melk vir jou te lewer. Aspekte wat saam met so ’n skynbaar eenvoudige produk moet werk, insluitende onder meer versekering, opleiding, verspreiding en gesondheid moet boonop ook as deel van hierdie stelsel gesien word – en by NAMPO kry jongmense die kans om elke aspek hiervan van naderby te aanskou en die landbou-ketting te verstaan.”

Dr. Theo de Jager, voorsitter van SAAI, spreek leerders by NAMPO Kaap toe.

Dr. Theo de Jager, voorsitter van SAAI, is deur die WKOD die geleentheid gegee om leerders wat NAMPO bygewoon het, toe te spreek oor die belangrikheid van landbou vir die samelewing.

“Die belangrikste mense wat die toekoms van landbou bepaal, sit vandag nog in die skoolbanke. Oor 20 jaar, wanneer hulle die uitvoerende hoofde  van landboumaatskappye of leiers in boere-organisasies is, wil ons gemoedsrus hê dat hulle nog beter sal presteer as ons. Juis daarom belê SAAI in blootstelling, opleiding en ’n liefde vir die landbou onder jongmense. Daar is nie ’n beter plek om te sien waar dit alles bymekaarkom as by NAMPO nie!” verduidelik De Jager.