Kaapse Forum help geleenthede vir spelers skep met eerste Morningstar Junior Rugby-sewestoernooi
In ooreenstemming met sy verbintenis tot die ondersteuning van gemeenskapsontwikkeling het Kaapse Forum, as een van die borge van Morningstar Junior Rugbyklub se eerste sewesrugbytoernooi, gehelp om juniorrugbyspanne van regoor Kaapstad byeen te bring vir ’n dag van sport, gemeenskapsbetrokkenheid en nuwe geleenthede vir jong spelers.
Tien spanne het aan die toernooi deelgeneem, waaronder Goodwood Junior Jaguars, Sakumzi Rugby Organisation, Union Milnerton Rugby Club, Connect NTK Rugby Football Club, Primrose Rugby Football Club, Helderberg Rugby Club, Edusmart Group, Kuilsriver Rugby Juniors en Hamediehs Rugby Football Club.
Die toernooi is begin om jong spelers meer geleenthede te bied om mededingende rugby te speel, blootstelling te kry en hul vaardighede te ontwikkel. Sulke geleenthede kan besonder waardevol wees in gemeenskappe waar die koste verbonde aan toerusting, vervoer en gereelde deelname toegang tot georganiseerde sportbyeenkomste kan bemoeilik.
“Om gemeenskappe byeen te bring is deel van Kaapse Forum se fokus en ons is verheug dat ons dit deur ons betrokkenheid by hierdie sewesrugbytoernooi kon bereik. Dit het nie net kinders uit verskillende gemeenskappe die geleentheid gebied om saam rugby te speel nie, maar ook hul ouers bymekaargebring wat andersins moontlik nie die geleentheid sou kry om op sosiale vlak tyd saam deur te bring nie,” sê Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum.
Wingfield Motors, wat deur sy direkteure – John van Niekerk en Brent Seyfried – die Morningstar-rugbydrag geborg het, sê die borgskap vorm deel van hul verbintenis om plaaslike klubs te ondersteun wat mense byeenbring en in die volgende geslag belê. Wanneer jy die span op die veld sien, sal jy weet dat Wingfield ’n klein rol in hul reis speel.
Theresa Uys, wat die toernooi in haar hoedanigheid as wyksraadslid bygewoon het, het ook al die spelers, afrigters, ouers en organiseerders gelukgewens dat hulle van hierdie geleentheid ’n sukses gemaak het. “Wanneer jongmense in gesonde mededinging bymekaarkom, versterk ons ons gemeenskap, bevorder ons positiewe waardes en skep ons geleenthede vir groei en ontwikkeling.”
Die voorneme is dat die toernooi’n gereelde instelling op die plaaslike sportkalender word en sal bydra tot die ontwikkeling van Morningstar Junior Rugbyklub as ’n volhoubare platform waar jong spelers gereeld geleenthede kan kry. Kaapse Forum beoog om hierdie toernooi te ondersteun as deel van sy voortgesette strewe om sterk, selfstandige, goed funksionerende en suksesvolle gemeenskappe in die Kaap te help vestig.
Die toernooi is moontlik gemaak deur die betrokkenheid van verskeie borge en gemeenskapsvennote. Dit sluit Wingfield Motors, Kasselsvlei Spar, Women in Sport Education (WISE), Morningstar Rugby Club NPC, Morningstar Neighbourhood Watch, Smuts & Co Attorneys, Central Defence Force, Pangela Group, Durbanville Tool Hire, AfriForum en Kaapse Forum in.


