Kaapse Forum herhaal oproep vir referendum oor polisiëring

Die minister van Polisie, Bheki Cele, se kritiek teen die Wes-Kaapse regering se aandrang dat polisiemagte na die provinsie afgewentel moet word, versterk Kaapse Forum se standpunt dat ’n provinsiale referendum oor die kwessie gehou moet word.

Kaapse Forum is ’n nuutgestigte burgerlike organisasie wat hom beywer daarvoor dat tien staatsfunksies, waaronder polisiëring, behuising, visserye en die vervoernetwerk aan die provinsie, munisipaliteite en plaaslike gemeenskappe toevertrou word. Dit is omdat die funksies nie voldoende deur die nasionale regering of staatsentiteite vervul word nie. Minister Cele huldig die standpunt dat dit “ongrondwetlik” sou wees om polisiemagte na die provinsie af te wendel. Hy sê daar bestaan geen so iets soos ’n “provinsiale polisiediens” nie. Dit is volgens Cele waarom die polisiediens die Suid-Afrikaanse Polisiediens is.

Kaapse Forum wil juis hê dat regssekerheid verkry moet word oor of premiers referendums mag verklaar. Indien dit deur ’n hof bevestig word, wil ons hê dat die provinsie uit die staanspoor ’n referendum oor die afwenteling van polisiemagte moet hou. Dit is om inwoners se steun te toets hiervoor en ook om te verseker dat die Wes-Kaap sy regmatige deel van die belastinggeld kry wat aan polisiëring bestee moet word.

Die organisasie het reeds aan die premier, Alan Winde, geskryf om ons hulp aan te bied vir die verkryging van regssekerheid oor of provinsies referendums mag hou. Ons wag nog op die bevestiging van ’n datum vir ’n beloofde ontmoeting met die premier