Kaapse Forum nader Konstitusionele Hof oor polisiemagte

Kaapse Forum het op Vrydag 19 Mei ’n aansoek by die Konstitusionele Hof ingedien wat ten doel het om te verseker dat die inwoners van die Wes-Kaap meer seggenskap oor die bestuur van die polisiediens in die provinsie kry. Dit moet by wyse van ’n provinsiale referendum geskied.

As burgerregteorganisasie glo Kaapse Forum dat polisiëring ’n veels te belangrike kwessie is om slegs oorgelaat te word aan die provinsiale en nasionale regerende partye, wat gedurig daaroor met mekaar koppe stamp.

Intussen sterf onskuldige mense steeds daagliks aan die hand van bendes, plaasaanvallers, moordenaars en rowers, terwyl vroue en meisies vrees vir verkragters en mans wat hulle in bekende omgewings onveilig laat voel. Dit is die gevolg daarvan dat hulle nie te alle tye kan staatmaak op die beskerming wat die Handves van Regte aan hulle belowe nie.

Die toekenning van polisiehulpbronne vanaf nasionale vlak aan die provinsie (soos die aantal lede wat by polisiekantore ontplooi word) speel ook ’n rol. Hiermee saam is dit vir Kaapse Forum problematies dat aanstellings in senior poste gemaak word met kandidate wat minder gekwalifiseerd is as plaaslike kandidate of nie die meerderheidstaal van die provinsie magtig is nie.

“Ons glo, as ’n organisasie wat ons beywer vir die afwenteling van staatsmagte na effektiewe provinsies, dat inwoners geken moet word in die bestuur van dienste wat hulle daaglikse lewe affekteer,” sê Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum.

Kaapse Forum se aansoek by die Konstitusionele Hof is daarom geskoei op artikel 127(2)(f) van die Grondwet wat aan ’n premier die mag en verantwoordelikheid gee om referendums in die provinsie te kan hou “in ooreenstemming met nasionale wetgewing”. Kaapse Forum het reeds vroeër ’n beroep op die premier van die Wes-Kaap gedoen om ’n referendum te hou waardeur Wes-Kapenaars se steun getoets kan word vir die afwenteling van polisiemagte na die provinsie.

Die premier het egter regsadvies ingewin dat geen wetgewing tans bestaan wat premiers in staat stel om die vereiste regulasies uit te vaardig ten einde ’n referendum aan te kondig nie. Andersins moet die Wet op Referendums aangepas of vervang word om premiers behoorlik met die taak te bemagtig. Kaapse Forum glo wel die Wet op Referendums van 1993 is die tersaaklike wetgewing, maar dat dit inderdaad kortkom wat betref uitdruklike magte aan premiers om regulasies te promulgeer vir sodanige referendums. Dit is dus ’n belemmering in die uitvoering van artikel 127 van die Grondwet.

Hierdie situasie beteken een van twee dinge: Óf geen voldoende wetgewing bestaan wat premiers toelaat om referendums te hou nie óf, indien dit wel bestaan in die vorm van die Wet op Referendums, skiet dit tekort wat betref die nodige magte vir premiers om regulasies uit te vaardig. In beide gevalle kom dit daarop neer dat die parlement in sy taak gefaal het om die nodige wetgewing daarvoor in te stel.

Kaapse Forum versoek die volgende van die hof:

  • Om ’n bevinding te maak dat, in soverre as wat die Wet op Referendums wel uitvoering gee aan artikel 127 van die Grondwet, dit onvolledig is en dat die parlement misluk het in sy rol om die volledige vereiste wetgewing in te stel.
  • Alternatiewelik, indien die hof meen dat die wetgewing wel die tersaaklike wetgewing is, versoek ons dat dit as ongrondwetlik verklaar word omdat dit nie premiers volledig toerus met magte om provinsiale referendums te promulgeer nie.
  • Derdens, indien die hof nie van mening is dat die Wet op Referendums die tersaaklike wet is om uitvoering aan artikel 127 te gee nie, versoek ons dat die hof bevind dat die parlement nie sy grondwetlike verpligting uitgevoer het om die vereiste wetgewing deur te voer nie.

Die respondente in die saak is die premier van die Wes-Kaap, die president, die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, die speaker van die Nasionale Vergadering, die Verkiesingskommissie en die minister van Binnelandse Sake.

“Ons is oortuig dat sukses met hierdie aansoek die weg sal baan vir Wes-Kapenaars en inwoners van ander provinsies om grondwetlik bemagtig te word met seggenskap oor hoe hulle regeer word. In die geval van die Wes-Kaap, waar die meerderheid kiesers téén die nasionale regerende party stem, word die inwoners nogtans verplig om besluite deur die sentralistiese nasionale regering te aanvaar wat dikwels strydig is met die keuses wat hulle in verkiesings uitoefen,” sluit Wyngaard af.

“Ons maak staat op inwoners, ander enersdenkende burgerlike organisasies en ook politieke partye se ondersteuning vir ons aansoek.”

Bheki Cele en die nasionale polisiediens het nie die vermoë om die Wes-Kaap veilig te hou nie! Jy kan die Wes-Kaap ’n veiliger provinsie maak deur jou naam by Kaapse Forum se saak te voeg. Klik hier om jou naam by te voeg.