Kaapse Forum skenk 100 waterpeerbome aan Overbergse skole
Kaapse Forum het in April saam met GreenForLife gespan om 100 waterpeerbome (Syzygium guineense) aan drie skole te skenk. Dié inisiatief het ten doel om ’n groener, meer skaduryke toekomstige omgewing vir Boontjieskraal Primêre Skool, The Glebe Primary School en Swartberg Primêre Skool te help skep.
Die waterpeerbome is immergroen en dra ook vir bykans vyf maande van die jaar eetbare vrugte. Dié bome groei redelik vinnig teen tussen 1 m en 1.5 m per jaar, indien hulle goed versorg word.
Bernard Pieters, hoof van Gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum, het sy dank uitgespreek teenoor die Wes-Kaapse Departement van Bosbou, Vissery en die Omgewing wat hy as ’n vennoot in hierdie projek beskou. “Samewerking is die kern van enige volhoubare projek. Só kan ons saam ons skole mooi maak, veilig hou en versterk.”
“Eerstens baie dankie aan Kaapse Forum vir die bome wat aan ons gelewer is. Die bome is vir ons ’n toonbeeld van lewe en suurstof, en dit help ons om ons kinders bewus te maak van hoe belangrik dit is om na iets om te sien en dit reg te bestuur. Die bome word vir verskeie doele aangewend. Dit help met die regulering van water op die terrein, veral gedurende die wintermaande. Dit dien ook as ’n opvoedkundige hulpmiddel waar ons leerders betrek word by vakke soos natuurwetenskap en wiskunde, deur hulle byvoorbeeld te laat meet en beplan. Verder dra dit by tot die verfraaiing van die terrein en skep dit skaduwee waar kinders lekker kan speel en hul pouses kan geniet,” sê Reginald D.P. Jackson, prinsipaal van Boontjieskraal Primêre Skool
“Om bome te plant gaan oor praktiese voordele: skaduwee, en ’n gesonder ruimte vir mense en gemeenskappe om in te leef,” voeg Aldo Carelse, projekte-assistent vir Kaapse Forum, by.
Kaapse Forum het verskeie projekte wat daarop gemik is om skole te ondersteun. Die organisasie bied onder meer skole veiligheidsoudits sodat skole bewus kan wees van die risiko’s wat hulle spesifiek in die gesig staar.


