Kaapse Forum staan familie van vermoorde onderwyser by

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum het die Human-gesin van Brackenfell gister bygestaan tydens die hofverskyning van die vermeende moordenaar Gareth Blight in die Blue Downs-streekshof. Blight staan tereg op aanklagte van moord op die 33-jarige onderwyser, Shane Human, wat in April vanjaar koelbloedig vermoor is.

’n Argument het op 29 April 2023 tussen Human en Blight, ’n buurman, ontstaan. Die woordewisseling het fisiek geraak waarna Blight Human na bewering met ’n mes gesteek het. Human het kort daarna aan sy wonde beswyk en Blight is in hegtenis geneem vir die moord. Hy het vroeg in Mei vir die eerste keer in die distrikshof verskyn en aansoek gedoen om borg. Die staat het egter sy aansoek teëgestaan vanweë die aard van sy vorige oortredings, waaronder ’n aantal geweldsmisdade.

Blight het weer op 28 September in die hof verskyn, waartydens die staat aangedui het dat die ondersoek voltooi is en die saak gereed is om verhoor te word. Weens die erns van die misdaad is die saak na die streekhof oorgeplaas.

Die saak het gister in die Blue Downs-streekhof voorgekom, maar is uitgestel is tot 15 November. Kaapse Forum sal die familie weer by dié verskyning bystaan en voortgaan totdat geregtigheid in hierdie saak geskied.

Raak vandag nog betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.