Kaapse Forum verwelkom Hlophe-uitspraak

Die Kaapse regbank kan nie bekostig om langer met ’n regter-president opgeskeep te sit oor wie se kop ’n wolk van onbehoorlike optrede hang nie. Die proses om regter John Hlophe in ’n staat van beskuldiging te plaas moet daarom sonder versuim in werking gestel word.

Die Kaapse Forum is verheug oor die uitspraak deur ’n volbank regters van die Gautengse Hooggeregshof dat Hlophe se aansoek om hersiening van die Regterlike Dienskommissie se bevinding van wangedrag teen hom, geen gronde het nie.

“Dit is nou byna vyftien jaar sedert Hlophe twee regters ten gunste van oudpresident Jacob Zuma probeer beïnvloed het. Soos Zuma al telkens met ernstige klagtes teen hom gedoen het, het Hlophe optrede teen hom tot nou aanhou vertraag. Om hom te sien belangrike sake verhoor, het ongetwyfeld ’n negatiewe impak op die geloofwaardigheid van die Kaapse regbank,” sê Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van die Kaapse Forum.

Die vestiging van ’n eie, onafhanklike regbank vir die Wes-Kaap, is een van Kaapse Forum se tien fokusareas.