Kaapse kleinskaalse vissers moet nou kreef vang vir hongerloon

Kaapse Forum dring op aan op billikheid en gelykheid vir kleinskaalse vissers

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum het vandag, op Wêreldvisserydag, ’n dringende beroep op die Departement van Omgewing, Bosbou en Visserye gedoen om billik te werk te gaan in die vasstelling van toegelate vangste van Weskuskreef vir kleinskaalse vissers. Die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (VLO) vier jaarliks Wêreldvisserydag om maatskaplike volhoubaarheid en werksomstandighede van werkers in visserybedryf te ondersoek.

Kaapse Forum se beroep spruit uit die departement se onlangse aankondiging van die 2023/2024-kreefseisoen se algehele toegelate vangs (TTV). Hiervolgens is kleinskaalse vissers se TTV vir die nuwe Weskuskreefseisoen met meer as 16% gesny. Kleinskaalse vissers se toegelate kuslangse vangs is derhalwe gesny van 93,9 ton na 78,54 ton. Vangs ter see is ook gesny van die 69,1 ton wat in die 2022/2023-seisoen gegeld het, na 57,79 ton vir die 2023/2024-seisoen.

“Hierdie besnoeiing kom vir kleinskaalse vissers neer op ’n Weskuskreefseisoen waar daar vir ’n hongerloon gewerk gaan word,” verduidelik Tommy van Zyl, koördineerder van Kaapse Forum. Die toekenning van visvangregte aan kleinskaalse vissers, wat verlede week uiteindelik ná jare se gesloer aangekondig is, is boonop bloot ’n manier waarop die departement die kleiner vissers wil paai. “Aan die een kant gee die departement, maar aan die ander kant neem hulle kos uit die vissers se mond,” waarsku Van Zyl. “Die nuwe TTV’s beteken dat talle vissers nie ekonomies volhoubaar sal kan vang nie. Dit plaas boonop toenemende druk op vissers wat reeds gebuk gaan onder ernstige finansiële druk en onsekerheid,” benadruk Van Zyl.

Van Zyl beklemtoon dat Kaapse Forum nie apaties staan ten opsigte van verantwoordelike bestuur van natuurlike hulpbronne nie, maar meen dat kleinskaalse vissers wat wettig vang, telkens aan die agterspeen suig. “In ’n bedryf met megavisserye en onwettige vissers probeer kleinskaalse vissers ’n eerbare bestaan maak, maar die departement en hul sogenaamde feite oor die beskikbare hulpbronne maak dit gans onmoontlik. Daar bestaan twyfel oor die wetenskaplike korrektheid van die departement se navorsingsmetodes in die bepaling van hulpbronne, maar intussen word kleinskaalse vissers gedwing om met nog kleiner vangste te oorleef,” sê Van Zyl.

Kaapse Forum doen ook ’n beroep op die departement om dringend gerugte van politieke inmenging in die toekenning van visvangregte, te ondersoek. Die proses is, volgens die burgerregteorganisasie, nie deursigtig nie en dit kom voor asof politieke verbintenisse ’n onbillike rol in die proses speel, dat megavisserye ’n onregverdige voordeel het en derhalwe die bestaan van kleinskaalse visserye en hul gemeenskappe bedreig.

In kort, doen Kaapse Forum ’n beroep op die departement om:

  • ’n deursigtige hersiening van die toekenningsproses ten opsigte van visvangregte, met die inagneming van die behoeftes en bydrae van kleinskaalse kommersiële vissers, te doen;
  • ondersoek in te stel na moontlike politieke inmenging in die toekenning van visvangregte;
  • die bestaande navorsingsmetodes wat gebruik word vir die bepaling van hulpbronne te hersien en tekortkominge te takel sodat akkuraatheid van data verseker kan word; en
  • betekenisvolle dialoog te voer met verteenwoordigers van die kleinskaalse kommersiële vissers sodat hul bekommernisse gehoor en aangepak kan word en sodoende saam gebou kan word aan ’n volhoubare en billike vissersbedryf.