Skurweberg Sekondêre Skool reg vir die skooljaar danksy Kaapse Forum-skenking

Kaapse Forum het vandeesweek 50 skooltasse – gevul met skryfbehoeftes – aan Skurweberg Sekondêre Skool se behoeftige graad 1-leerders geskenk. Dié skenking vorm deel van die burgerregteorganisasie se skooltassieprojek wat in samewerking met die Virseker Trust aangepak word. Die projek sal toesien dat daar vanjaar 400 skooltasse met skryfbehoeftes ter waarde van nagenoeg R600 elk aan hulpbehoewende graad 1’s in die provinsie geskenk word.

“Toegang tot gehalte onderrig is belangrik en onontbeerlik. Navorsing het al telkens getoon dat hoër opleidingsvlakke tot laer werkloosheidsyfers lei. Daarom meen Kaapse Forum dat die skenking van skooltasse aan hierdie skool ’n belangrike bydrae maak tot die toekoms van elkeen van die leerders wat by die projek baat,” sê Bernard Pieters, Kaapse Forum se hoof van Gemeenskapsaktivering.

Die heel basiese items op ’n graad 1-leerder se skryfbehoeftelys kan ’n ouer minstens R580 uit die sak jaag. In ’n provinsie soos die Wes-Kaap, waar hongersnood sowat 330 000 kinders raak, is dit te verstane dat duisende leerders se ouers net eenvoudig nie die fondse het om skryfbehoeftes aan te koop nie.

“Ons glo dat die skenking van skryfbehoeftes aan leerders in die Wes-Kaap ’n verskil in hul lewens sal maak, veral waar hulle nou amptelik hul skoolopleiding afskop. Elke pen, potlood, toegewyde onderwyser en hardwerkende leerder bring dié provinsie nader aan die dag waarop die juk van armoede vir nog ’n gesin afgeskud kan word. Ons sien saam met dié leerders en hul skoolgemeenskappe uit na die sukses wat voorlê,” sluit Pieters af.

Vanjaar se projek is weer finansieel moontlik gemaak deur die Virseker Trust, AfriForum, die Trust vir Afrikaanse Onderwys en PEP, wat beduidende afslag op die skooltasse en die inhoud daarvan, gegee het. Kaapse Forum kon vanjaar dus meer as dubbel soveel tasse as verlede jaar uitgee.

Raak vandag nog betrokke by Kaapse Forum en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.