Span bruin oudsoldate ook in teen bendes, sê Kaapse Forum

Die miskenning van bruin oudsoldate uit die vorige bedeling, asook hul ervaring van voortgesette “diskriminasie en ongeregtighede”, word in die kollig geplaas deur die burgerregteorganisasie Kaapse Forum se veldtog vir die afwenteling van polisiemagte na die Wes-Kaap.

“Die bruin soldaat het nog nooit ’n stem gehad nie,” sê (afgetrede) weermagkolonel William Leukes. “Die demokrasie wat ons in 1994 gekry het, het [wel] hoop gebring, maar ná 30 jaar is daar geen hoop meer nie.”

Uitdagings waarmee die bruin oudsoldate te make het, sluit in ’n gedurige gesukkel om hulle geregistreer te kry by die Departement van Militêre Veterane (DMV), sê kol. Leukes. Dit lei onder meer daartoe dat sommige oudsoldate hulself in haglike sosio-ekonomiese omstandighede bevind – “onder brûe, by ashope en [as] bergies” – omdat hulle toegang geweier word tot die voordele wat registrasie by die DMV inhou.

Kol. Leukes het gepraat by Kaapse Forum se protesaksie wat gister (Dinsdag 11 Augustus) by die parlement gehou is. Die protesaksie is ook bygewoon deur onder andere verteenwoordigers van die DA en VF Plus. Dié twee partye is, soos Kaapse Forum en die Cape Independence Advocacy Group (CIAG), ten gunste van die afwenteling van polisiemagte.

Hier is ’n opsomming van ander sprekers se insette:

  • Nicholas Gotsell, DA LP, het gesê die rede waarom bruin oudsoldate in ’n stryd om registrasie met die DMV gewikkel is, het dalk te doen met die feit dat miljarde rand se beweerde korrupsie in die departement tans ondersoek word. Hy sê alle bewyse bestaan egter dat die polisie hulp van enige aard benodig, onder meer weens die hoë moordsyfer in die Wes-Kaap en die gebrekkige vervolging van vuurwapen-verwante sake.
  • Grant Marais, VF Plus-lid van die Wes-Kaapse Wetgewer, het gesê Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie funksioneer nie tans op sy volle potensiaal nie. “Ons vryheid is onvolledig, want al drie regeringsvlakke is veronderstel om saam te werk, maar dit gebeur nie. Die protesaksie is daarop gemik om respek te eis vir provinsies se grondwetlike regte. Provinsies behoort nie bloot administratiewe verlengstukke van die nasionale regering te wees nie,” sê hy.
  • Phil Craig, CIAG-voorsitter, het gesê die probleem is dat die Wes-Kaap soebat vir die afwenteling van magte vanaf die nasionale regering, terwyl die Grondwet reeds daarvoor voorsiening maak en die afwenteling van magte boonop ’n internasionale gebruik is. Die grootste argument tans vir die afwenteling van polisiemagte na die Wes-Kaap, sê hy, is die feit dat die weermag op straat ontplooi is weens die polisie se onvermoë om misdaad hok te slaan.

Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum, het gesê samewerking met politieke partye en ander belanghebbendes is belangrik omdat sukses nie behaal word deur in isolasie te werk nie. Sommige politieke partye gee voor dat hulle oplossings vir die provinsie se misdaadprobleem het, sê hy, maar dan is hulle nie bereid om dié oplossings te deel nie, terwyl gemeenskappe aan gewetenlose misdadigers uitgelewer word.

“Gemeenskappe kan egter nie gewoon sit en op politieke partye wag om ’n verandering aan ons omstandighede teweeg te bring nie. Dit is ons wat ly onder moordenaars en verkragters. Dit is ons wat begrafnisse vir slagoffers reël.” Hy sê ook: “Gelukkig is daar mense wat reeds by, byvoorbeeld, buurtwagte betrokke is of nie skroom om inligting met die polisie te deel nie, ten spyte van die gebrek aan vertroue in die polisie.”

Wyngaard sê Kaapse Forum het besluit om ’n stem te bied aan lede van die ou Suid-Afrikaanse Kaapse Korps (SAKK) oor wie se lot kol. Leukes gepraat het toe hy gesê het: “Gedurende die grensoorloë was die dapperste soldaat die bruin soldaat en vandag beteken hy niks meer [vir die land] nie.”

Dié oudsoldate is vir Kaapse Forum aanduidend daarvan dat kundigheid in plaaslike gemeenskappe bestaan wat aangewend kan word om bendes en die gepaardgaande dwelmbedryf hok te slaan. “Dit is tog baie beter om mense vanuit die gemeenskappe te gebruik as om staat te maak op bliksoldaatjies wat uit Pretoria ontplooi word in ’n kamstige ‘Operation Prosper’ wat met mismoedigheid, eerder as voorspoedigheid, geassosieer word,” sê Wyngaard.