Tweede skenking braaikuikens aan Skurweberg Sekondêre Skool oorhandig

Bernard Pieters en Aldo Carelse.

Kaapse Forum het vroeër vandeesmaand die skenking van nog 2 000 braaikuikens aan Skurweberg Sekondêre Skool gefasiliteer nadat hierdie skool reeds in Mei vanjaar ’n plek in die geskiedenisboeke losgeboer het met die suksesvolle afhandeling van sy eerste braaihoenderprojek.

Dié skool, wat vroeër sowat 1 950 kuikens tot volwassenheid grootgemaak en ’n netto wins van meer as R50 000 aangeteken het, beoog nou om die sukses van sy eerste projek na te boots. Die braaihoenderprojek bied aan Skurweberg Sekondêre Skool die ruimte om ’n volhoubare inkomste te genereer, terwyl leerders praktiese landbou-opleiding ontvang. Die sakemodel behels kortliks dat die skool die eerste siklus se kuikens moes grootmaak en dan die opbrengs vir die befondsing van verdere siklusse aanwend.

National Chicks het die braaikuikens vir die eerste en nou die tweede rondte van die projek geskenk, terwyl Meadow Feeds die voer teen kosprys aan die skool beskikbaar gestel het. Dié projek volg nadat die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) Kaapse Forum genader het om met sodanige donasie te help. Hierdie skenking word moontlik gemaak deur Astral Foods, die grootste pluimvee produsent in Suider Afrika, onder leiding van Gary Arnold, die uitvoerende hoof.

“Skurweberg Sekondêre Skool se landbou-afdeling het ’n aansienlike hupstoot ontvang met die afskop van die tweede siklus van hul braaikuikenprojek. Danksy die ruim skenking van National Chicks en die volgehoue ondersteuning van Meadow Feeds, kry leerders die geleentheid om teorie regstreeks in die praktyk te omskep,” sê dr. Mariëtte Wheeler, WKOD-kurrikulumbeplanner vir landbou- en mariene wetenskappe.

Ivan Fredericks,  Skurweberg Sekondêre Skool se adjunkhoof en departementshoof vir Landbou, sê die Wes-Kaapse skoolgemeenskap word werklik bemagtig met die ondersteuning van ondernemings en organisasies soos Kaapse Forum.

“Kaapse Forum se fasilitering en volgehoue betrokkenheid om hierdie projek ’n werklikheid te maak is van onskatbare waarde; National Chicks se ondersteuning gee ook aan ons projek ’n vlieënde wegspring; en Meadow Feeds se topgehalte voer gee vir ons leerders die geleentheid gee om met die beste moontlike voeding te werk,” sê hy.

Hierdie projek sluit direk aan by Kaapse Forum se onderwysplan, wat daarop gemik is om omgewings te skep waar skole meer selfstandig en volhoubaar kan funksioneer. Terselfdertyd bied dit aan leerders waardevolle, praktiese blootstelling aan die landboubedryf sowel as die beginsels van entrepreneurskap, finansiële bestuur en projekbestuur.

Kaapse Forum sien uit om saam met Skurweberg Sekondêre Skool en die WKOD te werk om van hierdie projek ’n sukses te maak.