Behoeftige gr. 1’s toegerus met ’n blink toekoms én ’n tas vol skryfbehoeftes

Kaapse Forum het gister (6 Februarie) die stryd teen armoede in die Wes-Kaap voortgesit toe dié burgerregteorganisasie ’n nuwe generasie van behoeftige gr. 1’s in Melkbosstrand met skooltasse vol skryfbehoeftes toegerus het. ’n Totaal van 170 Wes-Kaapse leerders baat vanjaar by hierdie projek om hul skoolloopbaan, en hul toekoms, op die regte voet te begin.

Die skooltasse, gevul met skryfbehoeftes ter waarde van nagenoeg R600 elk, is nou by ses skole en gemeenskapsorgsentrums in die Wes-Kaap uitgedeel. As deel van die projek, wat deur die Virseker Trust befonds is, is nege van hierdie tasse Dinsdag by die Melkbos-sorgsentrum in Melkbosstrand uitgedeel.

Die heel basiese skryfbehoeftes vir ’n gr. 1-leerder kan ’n ouer minstens R540 uit die sak jaag. Dit terwyl Statistiek Suid-Afrika (StatsSA) se jongste navorsing daarop dui dat meer as 18% van huishoudings in die Wes-Kaap nie eens genoeg het om te eet nie.

“Dit is dan te verstane dat duisende ouers eenvoudig nie in staat is om skryfbehoeftes vir hul kinders te koop nie. Daarom maak hierdie skenking ’n belangrike bydrae tot die toekoms van van hierdie gr. 1’s,” sê Bernard Pieters, bestuurder van Gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum.

Pieters verduidelik dat die Wes-Kaapse regering in ’n dokument oor ekonomiese aangeleenthede benadruk het dat armoede en die onderwyser-leerder-verhouding die grootste impak op leerders se akademiese prestasie het. Die onderwyser-leerder-verhouding staan tans op ’n gemiddeld van 1:35 en in gebiede soos Bellville, Kuilsrivier en Mitchells Plain hou oorvol klaskamers rampspoedige gevolge vir leerders se vordering in.

Kaapse Forum sal derhalwe, as deel van ’n deurlopende strategie om onderwys in die provinsie te verbeter, druk op die Wes-Kaapse Onderwysdepartement plaas om die beloftes  van die oprigting van nuwe skole na te kom of om in oorleg met burgerregteorganisasies volhoubare oplossings te vind. Dit is veral noodsaaklik aangesien die Wes-Kaap in die afgelope dekade (vanaf 2013 tot 2022) ’n styging van 17,8% in die getal leerders in skole gehad het.

“Elke pen, potlood, toegewyde onderwyser en hardwerkende leerder bring dié provinsie nader aan die dag wanneer die juk van armoede vir nog ’n gesin afgeskud word. Ons sien saam met die leerders en hul gemeenskappe uit na hul suksesse in die toekoms,” sê Pieters.