Dringende ondersoek na politieke inmenging in vissersbedryf noodsaaklik

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum voer aan dat gerugte oor politieke inmenging in die vissersbedryf en bewerings dat dit ’n broeiplek vir kaderontplooiing geword het, dringend ondersoek moet word. Dié inmenging bring mee dat Kaapse kleinskaalse vissersgemeenskappe, wat hul brood en botter uit dié bedryf verdien, se lewensbestaan én kultuur nou ernstig in die gedrang is. Kaapse Forum eis daarom ’n dringende en deeglike ondersoek na hierdie bewerings om deursigtigheid en aanspreeklikheid in die toekenning van visvangregte te verseker.

Kaapse Forum se reaksie volg na aanleiding van die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DBVO) se onlangse beslissings rakende die toewysingsproses vir visvangregte. Die beslissings, sowel as mediaberigte wat die lot van die Kaapse klein vissersgemeenskappe ondersoek, beklemtoon die ontstellende situasie waarmee tradisionele kleinskaalse en mediumgrootte kommersiële vissers tans te kampe het.

Kaapse Forum erken die belangrikheid van volhoubare visvangpraktyke en die behoefte om mariene hulpbronne verantwoordelik te bestuur. Die organisasie veroordeel egter enige optrede ten sterkste wat, soos tans beweer word, die welstand van vissersgemeenskappe vir politieke gewin in gevaar stel. Die besluit om visvangpermitte toe te ken aan individue wat nie afhanklik is van visvang vir hul lewensbestaan nie, laat ernstige vrae ontstaan oor die motivering agter dié toekennings.

Volgens Tommy van Zyl, koördineerder van Kaapse Forum, speel vissersgemeenskappe ’n belangrike rol in plaaslike ekonomieë deur onder meer die verskaffing van werksgeleenthede en die handhawing van kultuur in kusgebiede. “Ons is veral bekommerd oor die potensiële impak wat hierdie toekennings, wat skynbaar aan politieke vriende gemaak word, op hierdie gemeenskappe kan hê. ’n Ekonomiese krisis staar families wat dikwels geslagte lank reeds vissers is, in die gesig, terwyl visvangpermitte uitgedeel word aan sakelui wat dit weer teen reusewinste wil herverkoop.”

Van Zyl waarsku ook dat die toekenning van visvangpermitte waarskynlik nog ’n wyse is waarop stemme vir die komende 2024-verkiesing getrek word.

Die organisasie doen ’n beroep op die DBVO om die toewysings van visvangregte te heroorweeg, met inagneming van die werklike behoeftes en bydrae van diegene wat direk van die visbedryf afhanklik is vir hul lewensbestaan. Kaapse Forum eis ook dat ’n einde gemaak moet word aan enige praktyke wat politieke belange bo die welstand van vissersgemeenskappe prioritiseer.

“In ’n tyd waarin die ekonomie krimp en rentekoerse styg en dus ook ’n styging in die prys van voedsel tot gevolg het, word Suid-Afrika se kleinskaalse en mediumgrootte kommersiële vissers doelbewus uit die ekonomie gesny. Hierdie beleid is onaanvaarbaar. As ’n organisasie wat verbind is tot regverdigheid, deursigtigheid en die volhoubare gebruik van mariene hulpbronne, staan Kaapse Forum skouer aan skouer met tradisionele kleinskaalse en mediumgrootte kommersiële vissers wat deur hierdie besluite geraak word en beloof om te werk aan ’n regverdige oplossing van hierdie kwessie,” sluit Van Zyl af.

Raak vandag nog betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.

(Foto: Wikimedia Commons/South African Tourism)