Polisielede, Kaapse Forum protesteer teen onttrekking van Kinnear-gesin se beveiliging, wanbestuur in SAPD

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum het vandeesweek weer ’n dringende beroep op die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gedoen om die herinstelling van die Kinnear-gesin se polisiebeveiliging te prioritiseer. Kaapse Forum sowel as ’n groep polisielede en ander belanghebbende organisasies het gister (29 Februarie), ter ondersteuning van die herinstelling van die gesin se polisiebeveiliging, deelgeneem aan ’n protesaksie voor die SAPD se Wes-Kaapse hoofkantoor in Kaapstad. Die protesaksie was ook daarop gemik om te wys op die wanbestuur wat tans in die SAPD woed en is byeengeroep deur die Police and Prisons Civil Rights Union (POPCRU), waarvan die vermoorde lt.kol. Charl Kinnear ’n lid was.     

Volgens Kaapse Forum is die Kinnear-gesin se polisiebeskerming van uiterste belang vir die gesin sowel as die res van die gemeenskap weens die presedent wat hiermee geskep word. Die onttrekking van hul polisiebeskerming is tekenend van breër probleme, soos wanbestuur, wat nou kenmerkend van die SAPD geword het, meen Bernard Pieters, bestuurder van Gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum.

Polisielede wat gister aan die protesaksie deelgeneem het, meen voorts dat die SAPD, veral ten opsigte van veiligheid, nie meer die belange van sy eie werknemers op die hart dra nie en dat wanbestuur grootliks hiervoor blameer kan word.

“Die onttrekking van die Kinnear-gesin se beveiliging beklemtoon ook die probleme rakende gemeenskapsveiligheid en die uitdagings wat dié wat aktief betrokke is by die handhawing van wet en orde, in die gesig staar. Getuies moet sonder vrees of intimidasie hul rol in die vervolgingsproses kan vervul, maar dit kan in hierdie geval nie gebeur nie,” verduidelik Pieters. “Die Kinnear-geval benadruk boonop die behoefte aan die afwenteling van nasionale mag na dié van provinsies – ’n saak waarvoor Kaapse Forum hom aktief beywer. In hierdie geval sien ons die SAPD-topbestuur het ’n totale gebrek aan die bevoegdheid en wil om hul eie mense te beskerm. Dit wys net hoe ver hulle reeds in ’n kakistokrasie verval het.”

Raak vandag nog betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.