BELA gaan ouers se sê by skole steel, maan Kaapse Forum

Indien die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die BELA-wetsontwerp) in sy huidige formaat aanvaar word, sal dit neerkom op ’n skandelike stroping van ouers se seggenskap in hul kinders se skoolopvoeding ten opsigte van veral skole se taal- en toelatingsbeleide. Só meen die burgerregteorganisasie Kaapse Forum wat sy geskrewe kommentaar oor dié voorgestelde wetgewing ingedien het.

Kaapse Forum benadruk dat hoewel ’n krisis in die onderwys woed en dit daadwerklik aangepak moet word, is die BELA-wetsontwerp nie ’n praktiese óf realistiese oplossing vir hierdie komplekse probleem nie. Die organisasie eis derhalwe dat die wetsontwerp in sy geheel teruggetrek word en na die Departement van Basiese Onderwys verwys word vir deeglike heroorweging sodat die onderskeie kritieke probleme daarmee en onwettighede daarin vervat, soos uitgewys in Kaapse Forum se skriftelike kommentaar, getakel kan word.

Die organisasie eis onder meer in sy voorlegging ’n gedetailleerde verslag van watter openbare skole in die Wes-Kaap oor ’n funksionerende skoolbeheerliggaam beskik. Dit, meen Bernard Pieters, bestuurder van Gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum, sal aan die Departement van Onderwys in die Wes-Kaap ’n duidelike aanduiding kan gee van die vlak van ouerbetrokkenheid by skole in dié provinsie. “Skoolgemeenskappe waar ouers waarlik betrokke is en waar ouerbeheerliggame doeltreffend en optimaal funksioneer, sal die swaarste getref word deur die beoogde wet en gemeenskappe ontmagtig. Ons ervaring is dat talle skole in die Wes-Kaap beslis aktiewe ouergemeenskappe het waar ouers as deel van beheerliggame ’n noodsaaklike rol in die sukses van skole speel, maar BELA sal hierdie suksesse wegstroop,” beklemtoon Pieters.

“Verskeie bepalings in die wetsontwerp sal die demokratiese regte van gemeenskappe ernstig skend en die funksies van beheerliggame erodeer. Die regering probeer boonop om ’n disfunksionele stelsel te herverpak deur mag weg te neem van plaaslike gemeenskappe. Sentralisering het tot dusver geen suksesverhale in die huidige regering opgelewer nie. Dit sal beter wees om nou eerder die proses te staak en die ware probleme in die skoolstelsel te identifiseer, as om die simptome met radikale sogenaamde oplossings te probeer behandel,” sluit Pieters af.

Raak vandag nog betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.