Kaapse Forum wil Rusthof-gemeenskap bemagtig met vestiging van nuwe gemeenskapsforum

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum en verskeie plaaslike kerkgroepe, vroue- en maatskaplike organisasies sowel as vooraanstaande gemeenskapslede het vandeesweek byeengekom om planne te bespreek vir die vestiging van ’n gemeenskapsforum vir die Rusthof-gemeenskap. Hierdie inisiatief is die eerste gekoördineerde poging van sy soort waardeur dié gemeenskap in die Strand sy hulpbronne meer doeltreffend wil bestuur.

Die Rusthof-gemeenskap ondervind verskeie sosio-ekonomiese uitdagings, waaronder misdaad en hoë vlakke van vroeë skoolverlating.

Organisasies betrokke by die beplanning vir die vestiging van die Rusthof-gemeenskapsforum sluit in: Kaapse Forum, die Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (VGK), Building Bridges, Turn Around 180, maatskaplike werkers van Badisa, Sencit-kerk, Vroue in Aksie Strand, Local Network of Care Rusthof, die plaaslike Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) sowel as die sameroeper en oudskoolhoof van Laerskool Lochnerhof, Almero Greybes.

’n Taakspan sal nou voortgaan om addisionele rolspelers te betrek. Hulle sal ook ’n samewerkingsplan saamstel om die werksaamhede en projekte wat reeds vir dié gemeenskap beskikbaar is, meer doeltreffend te koördineer.

“Hierdie poging deur die Rusthof-gemeenskap sal uiteindelik help toesien dat die uitsonderlike werk wat reeds hier gedoen word, meer optimaal aangepak word. Die eerste tree na ’n suksesvolle en volhoubare gemeenskapsinisiatief is nou geneem en ons sien saam met die Rusthof-gemeenskap uit na die suksesverhale wat nog hier geskryf gaan word,” sê Bernard Pieters, bestuurder van Gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum.

Aangesien veiligheid en opleiding aan die hart van die nuwe gemeenskapsforum se werk staan, sal skole en bestaande buurtwag- en GPF-strukture die fokus van die Rusthof-gemeenskapsforum vorm. Behoeftebepalings sal by plaaslike skole gedoen moet word sodat die unieke uitdagings daar doeltreffend getakel kan word. In terme van veiligheid hoop die gemeenskapsforum om die koördinering tussen veiligheidstrukture in Rusthof te verbeter. Verskeie maatskaplike, omgewings- en opleidingsprojekte word reeds in die vooruitsig gestel om onder meer ekonomiese ontwikkelingsinisiatiewe in die gemeenskap aan te moedig.

“Kaapse Forum sal, sover dit prakties moontlik is, hierdie gemeenskapsinisiatief ondersteun en bystaan. Die Rusthof-gemeenskapsforum is ’n opwindende inisiatief wat uitsonderlike voordele vir die gemeenskap kan inhou. Dit kan ook dien as ’n bloudruk vir ander gemeenskappe wat streef na samewerking en doeltreffende koördinering,” sluit Pieters af.

Raak vandag nog betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.