Vrot, vrotter, Philippi! Polisiekollege ’n broeiplek vir selfverryking en substandaard opleiding

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum het vandag ’n dringende beroep op die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gedoen om in te gryp by die verval van die Philippi-polisiekollege en om ’n deeglike ondersoek te doen oor verskeie skokkende bewerings aangaande die personeel, gehalte van opleiding, behandeling van vroue en die gehalte en misdadigheid van polisierekrute.

Die verval van die kollege in sy geheel is ernstige rede tot kommer, benadruk Kaapse Forum en voer aan dat onlangse onthullings daarop wys dat swak en korrupte bestuur veral vir die verswakking van hierdie opleidingsinstelling verantwoordelik gehou kan word.

Volgens inligting wat Kaapse Forum ontvang het, is die omvang van agteruitgang van die kollege multidimensioneel, en sluit onder meer die volgende in:

  • Swak gekwalifiseerde bestuur: Vier uit die vyf senior bestuurslede van die Philippi-kollege het geen vorige polisiëringservaring nie, maar is onder meer verantwoordelik vir alle opleiding, rekrute se welstand en gehaltebeheer.
  • Selfverryking: Die verhuring van kollege-eiendom word tans gedoen, maar beland na bewering in die sakke van korrupte amptenare.
  • Wanbesteding: Meer as R300 000 is bestee op busvervoer vir lede van die publiek om die uitpasseringsparade in Desember verlede jaar by te woon. Voorts het die kollegehoof onlangs nagenoeg R76 000 spandeer aan ’n nuwe lessenaar en kaste vir sy kantoor.
  • Seksuele teistering: Verskeie vroulike rekrute van die kollege het verlede jaar onthullings van seksuele teistering deur SAPD-lede gemaak. In reaksie op hul klagtes, is die vroue gestraf en gedwing om sonder komberse buite te slaap en ook in riool te rol.  
  • Misdadigheid onder rekrute: ’n Aantal rekrute is verlede jaar betrek by misdadigheid, insluitende dwelmgebruik en betrokkenheid by bendeaktiwiteite.

Die huidige stelsel van opleiding in die polisie het misluk vanweë die sentralistiese bestuur wat in die polisie toegepas word, verduidelik Bernard Pieters, bestuurder van Gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum.

“Die afwenteling van polisiëringsmag is nou ’n saak wat dringende prioriteit moet geniet, sodat die kastaiings uit die vuur gekrap kan word. Gemeenskappe moet bemagtig word sodat daar gewerk kan word aan die vestiging van funksionerende en gesonde gemeenskappe,” meen Pieters. Hy hou egter vol dat die SAPD in die tussentyd nie sy verantwoordelik mag versaak nie en nou moet toesien dat die probleme wat tans tot die agteruitgang van hierdie instelling bydra, getakel moet word. “Swak opleiding, twyfelagtige rekrute en misdadigheid wat voortvloei uit hierdie opleidingskollege kan nie geduld word nie. Die vrotspul in Philippi moet nou end kry. Die Wes-Kaap se unieke misdaadlandskap vereis ’n trotse en verantwoordelike polisiemag wat doeltreffend en sonder die burokratiese bagasie van ’n sentrale mag kan funksioneer,” sluit Pieters af.