Kaapse Forum eis antwoorde oor gesteelde vuurwapens by Mitchells Plain-polisiestasie

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum en verskeie ander plaaslike gemeenskapsleiers, aktiviste en burgerregteorganisasies het Vrydag (26 Januarie) voor die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se Mitchells Plain-polisiestasie byeengekom om protes aan te teken teen die skrikwekkende vlaag van vuurwapendiefstal by dié polisiestasie.

Dit het verlede week aan die lig gekom dat 15 vuurwapens, sowel as agt nagemaakte vuurwapens, uit dié stasie se bewysstukpakkamer (bekend as die SAPD 13-stoor) gesteel is. Dié voorval is reeds in November 2023 aangeteken en het na bewering oor ’n tydperk van ses maande plaasgevind. 

Diefstal van vuurwapens uit polisiestasies is boonop ’n toenemende probleem. Die minister van Polisie, Bheki Cele, het onlangs aangekondig dat daar landwyd 357 vuurwapens in die afgelope vier jaar uit SAPD 13-store gesteel is.

In Augustus 2017 is ’n spesiale ondersoek deur die Valke van stapel gestuur nadat die dit bekend geword het dat 15 vuurwapens uit die Mitchells Plain-stasie en 18 uit die Bellville-Suid-stasie se SAPD 13-store gesteel is.

Die  Cape Flats Safety Forum (CFSF) het tydens Vrydag se protesaksie ’n memorandum aan die SAPD oorhandig en eis antwoorde oor die jongste vlaag vuurwapendiefstalle. Kaapse Forum ondersteun dié inisiatief.

“Dit is duidelik dat die SAPD se nasionale strukture nie oor die vermoë beskik om hierdie probleem hok te slaan of te bestuur nie. Cele se beloftes dat die diefstal van vuurwapens uit polisiepakkamers getakel sal word, is net nog een van sy niksseggende beloftes. Die huidige sentralistiese stelsel waardeur die SAPD regeer word, is ’n absolute mislukking, en daarom is ’n sterker federale struktuur wat direkte en effektiewe optrede bewerkstellig nou die enigste werkbare opsie vir die polisiediens in die Wes-Kaap,” sê Bernard Pieters, bestuurder van Gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum.

Kaapse Forum beywer hom vir die afwenteling van polisiëringsmag na gemeenskapsvlak, en sal daarom ook volgehoue druk uitoefen op korrupte polisielede wat die veiligheid van gemeenskappe in gedrang bring. Teken die Kaapse Forum-petisie hier https://kaapseforum.co.za/afwenteling-van-polisieringsmagte/ en gee sodoende jou steun vir ’n meer verantwoordbare en effektiewe polisiediens.

Raak vandag nog betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.