Nege leerders aan Melkbos-sorgsentrum skop skooljaar af met nuwe tassies
Kaapse Forum en die Virseker Trust het vanjaar weer kragte saamgespan om die toenemende stryd teen armoede in die Wes-Kaap saam met ’n nuwe generasie skoolleerders aan te pak. Met dié projek word behoeftige graadeens toegerus met ’n skooltas volgepak met al die nodige skryfbehoeftes om hul skoolloopbane op die regte voet te kan begin. Dié skooltas is ook ’n baken van hoop vir elke leerder om hul toekomsdrome na te streef. ’n Rapsie minder as 200 tassies, gevul met skryfbehoeftes ter waarde van ongeveer R600 elk, sal oor die volgende paar dae by verskeie skole en gemeenskapsorgsentrums in die Wes-Kaap uitgedeel word. As deel van dié projek is nege tassies Dinsdag 21 Januarie by die Melkbos-sorgsentrum se Zumpie Dump-skool uitgedeel.
Volgens Bernard Pieters, bestuurder van gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum, het navorsing al telkens getoon dat hoër opleidingsvlakke tot laer werkloosheidsvlakke lei. Daarom meen Kaapse Forum sal die skenkings aan skole en sorgsentrums ’n belangrike bydrae maak tot die toekoms van elke leerder wat by die projek baat.
Die heel basiese items in ’n graadeen-leerder se skryfbehoeftepakket kan ’n ouer minstens R580 uit die sak jaag. Luidens die “South African Child Gauge 2024” het die Noord-Kaap in 2022 die hoogste persentasie (24%) van hongersnood onder kinders aangeteken, gevolg deur die Wes-Kaap (16%). Die Wes-Kaap is ook die enigste provinsie waar die hongersnoodsyfer onder kinders die afgelope twee dekades nie afgeneem het nie. Dit in ag genome, is dit egter te verstane dat duisende skoolleerders se ouers net eenvoudig nie die fondse het om skryfbehoeftes aan te koop nie.
Volgens Pieters het die Wes-Kaapse regering in ’n oorsigdokument oor ekonomiese aangeleenthede benadruk dat armoede en die onderwyser-leerder-verhouding van die belangrikste elemente is wat ’n leerder se akademiese prestasie beïnvloed. Daar is onlangs aangekondig dat die onderwyser-leerder-verhouding tans op ’n gemiddeld van 1:35 staan en in gebiede soos Bellville, Kuilsrivier en Mitchells Plain is oorvol klaskamers ’n ernstige probleem. Met die verlies aan kundige onderwyspersoneel sal hierdie verhouding vanjaar verder toeneem wat tot bykomende uitdagings sal lei. Kaapse Forum het reeds verskeie vergaderings met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) gehad oor samewerking en moontlike oplossings hiervoor.
Hierdie projek is finansieel moontlik gemaak met behulp van die Virseker Trust.
“Dit is ’n eer en voorreg vir Virseker – Suid-Afrika se enigste trots Afrikaanse versekeringshandelsmerk – om by die skooltassieprojek betrokke te wees en só die jong leiers van môre toe te rus om hul volle potensiaal te bereik. Ons staan op die skouers van elke Virseker-polishouer, wie se maandelikse bydrae tot die Virseker Trust ons help om Afrikaanse onderrig te bevorder, gemeenskappe in nood te help en Afrikaans as taal te bou, te groei en te sien floreer. Ons kinders is ons rykste skat – een waarin die hoop op ’n selfs beter Suid-Afrika opgesluit lê – en ons hoop dat elke splinternuwe tassie net die begin is tot ’n skitterblink toekoms,” sê Morné van Emmenes, Virseker se hoof van bemarking.
Kaapse Forum sal derhalwe vanjaar as deel van ’n deurlopende onderwysstrategie ook druk op die WKOD plaas om die beloftes om nuwe skole in dié provinsie op te rig, na te kom of om in vennootskap met burgerregteorganisasies aan volhoubare oplossings te werk.
“Ons glo dat die skenking van skryfbehoeftes aan Wes-Kaapse leerders ’n verskil sal maak in hierdie leerders se lewens – veral waar hulle nou amptelik hul skoolopleiding afskop. Elke pen, potlood, toegewyde onderwyser en hardwerkende leerder bring dié provinsie nader aan die dag waarop die juk van armoede vir nog ’n gesin afgeskud kan word. Ons sien saam met dié leerders en hul skoolgemeenskappe uit na die sukses wat voorlê,” sluit Pieters af.
Raak vandag nog betrokke by Kaapse Forum en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.